Yamaha APX akoestiese kitaar-reeks

Met al my travels en gigs in en om kerke die afgelope 20 jaar was ek gereeld daaraan herinner hoe gewild die Yamaha APX akoestiese kitaar-reeks is. ‘n Mens kan amper die stelling maak dat dit die standaard begeleidingsinstrument in kerke is (naas die orrel) en die maatstaf waarteen ander akoestiese kitare vir ‘n praise en worship band gemeet word. Met goeie waarde vir geld en goeie boukwaliteit het Yamaha nog altyd ‘n wenner met hierdie reeks gehad.

So wat werk vir die APX reeks?  Wel, dit was gemaak vir die ampere uitsluitlike doel om op ‘n verhoog gebruik te word en ontwerpfokus is gewoonlik ‘n goeie begin vir sukses. Dit is ‘n relatief klein kitaar wat dimensies betref en dus lig en maklik om te hanteer. Dit het ‘n baie goeie weerstand teen feedback op die verhoog en die kenmerkende kristalhelder treble klanke help om deur ‘n band mix te sny – ideaal vir begeleiding. Die pick-ups in die APX-reeks was nog altyd baie goed vir die prys en die boukwaliteit het dit betroubaar gemaak vir die stampe en stote van die pad en die deursnit kerkverhoog.

Dieselfde dinge wat in die APX-reeks se guns tel is volgens sommige ook hul grootste vyand. Die klein dimensies beteken dat die gewone akoestiese klank nie die beste in die wêreld is nie en dat die klank nie baie natuurlike bass het nie. Indien jy ‘n lui klankman het wat nie tyd met die EQ spandeer nie kan die trebles van ‘n APX die stopsels uit jou tande sny.

Die musikante wat egter nie van die APX-reeks hou nie is definitief in die minderheid as ek sien hoe gewild hierdie kitare is. Gewapen met die kennis dat Yamaha onlangs “verbeteringe” tot die APX-reeks aangebring het, sit ek toe af na Musiekwêreld hier in die Kaap om te hoor of ek bietjie na die nuwe modelle kan kyk.

Net so bietjie perspektief: Die APX-reeks bestaan uit die basiese APX500 model, gevolg deur die APX700, APX900 en APX1200 wat progressief beter kwaliteit en spesifikasies het – en dus ook ‘n hoër prys.  Die APX500 kom ook in ‘n nylonsnaar weergawe en die APX700 in ‘n 12-snaar weergawe vir die van julle wat sterk hande het. Ek het vir die doeleindes van hierdie review besluit om te fokus op die modelle wat ek die meeste op die verhoog sien; die APX500, APX700 en APX900.   Specs Voordat ons na die verskille tussen die 3 modelle kyk, kom ons gesels oor wat is dieselfde. Yamaha het met die nuwe modelle besluit om die dimensies van die bak en nek dieselfde te hou as die vorige modelle – as ‘n ding werk dan los jy dit uit, sou ek ook sê.

Al drie se bakdiepte is net onder die 10cm op sy diepste wat dit baie vlak maak in vergelyking met die deursnit acoustic. Die nek is 43mm wyd waar die nek en kop bymekaar kom wat bietjie smal kan wees vir ouens met worsvingers, maar lekker vir strum werk. Al drie modelle se nekke is van Nato houd (algemene plaavervanger vir mahonie) en die fretboards en bruê van rooshoud.

Die verskille tussen die drie is gefokus op die kwaliteit hout, bouwerk en pick-ups. Die APX500 se sye en agterkant is van Nato hout en die klankbord van Spruce. Die Spruce is nie ‘n soliede stuk hout nie en dit is gewoonlik ‘n aanduiding van ‘n goedkoper model, aangesien dit algemeen aanvaar word dat soliede hout klank beter weergee. Die pick-up en pre-amp is die “System 55T 1way” wat deur Yamaha self ontwerp word. Hierdie sisteem bestaan uit een plaatjie onder die brug wat die vibrasies van die snare optel. Die pre-amp het die normale treble, mid en bass kontroles en sluit ook ‘n tuner in met ‘n elektroniese aanwyser – ‘n moet vir iemand wat vinnig op die verhoog moet tune – dankie Yamaha!

Die APX700 lig die standaard met ‘n soliede spruce hout klankbord – die sye en agterkant is van Nato hout. Perlemoenskulp word gebruik vir die versiering en die pick-up en pre-amp is die nuwe A.R.T. (Acoustic Resonance Transducer) 1-way sisteem wat deur Yamaha self ontwerp is. Dit bestaan uit 2 pick-ups wat onder die klankbord geplak word in posisies wat volgens Yamaha die natuurlike klank van die kitaar die beste weergee. Dit tel dus nie snaarvibrasies op nie, maar eerder die vibrasie van die klankbord. In teorie behoort dit ‘n beter klank te gee.    Die APX900 lig die standaard nog verder met Maple hout vir die sye en agterkant – die klankbord is ook van soliede Spruce hout. Nog meer perlemoenskulp word vir versiering gebruik en die A.R.T. pick-up en pre-amp stelsel word hierdie keer gevoer deur vier pick-ups wat op strategiese plekke onder die klankbord geplak is. Die stelknoppe is nou ‘n goue kleur en voel meer stewig.

Die oomblik toe ek die APX700 uit sy sak haal, nadat ek die APX500 gebêre het, was die beter boukwaliteit en materiaal onmiddellik duidelik. Die instrument voel stewiger, lyk meer duursaam en straal meer selfvertroue uit. Daar is definitief ook ‘n stappie op van die APX700 na die APX900 i.t.v. kwaliteit en materiaal, maar die ooglopende sprong is nie so groot soos van die APX500 na die APX700 nie. Die verskil hier is meer een van detail en versiering. Die hoër prys van een model na die ander kan dus gesien en gevoel word sonder veel inspanning – iets wat belangrik is om te bepaal of die verskil in prys tussen die modelle die geld werd is.         Gooi Volgens die verskillende spesifikasies behoort die grootste verskil tussen die modelle in die klank weerspieël te word. Ek begin met die APX500 en die kenmerkende Yamaha klank wat ons almal leer ken het en Sondag na Sondag mee begelei word kom uit my speakers – ons ken dit. Die trebles is glashelder en ek is beïndruk met die goeie bass – beter as vorige modelle. Die tuner is baie akkuraat en die bass, treble en midds gly-knoppe doen hulle werk goed.  Die een ding wat ek ekstra sou wou hê is dat die klank gemute moes word as jy die tuner aansit – dit is baie irriterend as jy iemand op die verhoog hoor tune.

Die eerste ding wat ek agterkom met die APX700 is dat die volume output van die pick-ups en pre-amp heelwat laer is as die APX500. Ek moes die volume knop heelwat opdraai om dieselfde volume te bereik tussen die 2, maar wat jy inboet in volume kry jy in hope terug wat klankkwaliteit betref. Die nuwe A.R.T. sisteem werk soos Yamaha beweer, die klank is baie meer natuurlik en kompleks. Die natuurlike mid-range van die kitaar is baie meer opmerklik en met die bass, midds en treble knoppe op die pre-amp kan jy die klank manipuleer totdat jy daarvan hou. Aangesien die vibrasies van die klankbord opgetel word besef jy onmiddellik dat jou tegniek goed moet wees. Enige onnodige geskuur of gekap teen die bak word baie mooi vir jou teruggespeel oor die luidsprekers. Jy word gedwing om meer gedissiplineerd te speel – ‘n baie goeie ding.    Die nuwe ART preamp op die APX900. Let op die maple hout.

Aangesien die APX900 se A.R.T. system 4 pick-ups het, het die pre-amp bo-en-behalwe die treble, bass en mids glyknoppe, ook die opsie om die balans te stel tussen die volume van die pick-ups wat aan die baskant (waar die bassnare is) van die klankbord gemonteer is teenoor die pick-ups wat aan die treble kant van die klankbord gemonteer is. Alhoewel die klankkwaliteit dieselfde is as die APX700, gee dit baie ekstra opsies om die klank presies te stel soos jy dit wil hê na gelang van die plek waar jy speel. Aangesien daar 4 pick-ups is wat die klankbord se vibrasies optel moet jou tegniek nog beter wees, tensy jy iemand is wat daarvan hou om percussive te speel en dit oor die luidsprekers wil hoor. Elke ding wat raak aan die bak van die kitaar word opgetel, so hang maar ‘n hemp oor jou belt buckle. As jy kan leer om hierdie sensitiwiteit vir jou te laat werk, is the sky the limit.

Oordenking Soos met vorige modelle gaan die APX-reeks nie kompetisies wen vir die beste natuurlike akoestiese klank nie. Dit kan nie meeding om ‘n kampvuur met byvoorbeeld ‘n volgrootte dreadnaught acoustic nie. Om regverdig te wees moet ons egter onthou dat dit nie is waarvoor die APX-reeks gemaak word nie. Hierdie reeks is gefokus op die verhoog en in daardie omgewing kan ek nie baie fout vind nie.

Kom ons sit die drie modelle teen mekaar. Vir ongeveer R4800 doen die APX500 sy job uitstekend. Ek gee toe, daar is geen soliede hout nie en die pick-up stelsel kan nie kers vashou by die ander modelle nie, maar dit speel heerlik en doen sy job sonder foute. Die standaard is terug.

Vir ongeveer R1700 meer kry jy die APX700 (R6500) met ‘n soliede hout klankbord, beter kwaliteit bouwerk en die nuwe A.R.T. pick-up en pre-amp sisteem. Is dit die geld werd? In my opinie, JA. As jy die ekstra fondse het en jy hou van Yamaha, spandeer dit.

Die moeiliker een is die APX900. Teen ongeveer R9000 kry jy maple hout sye en agterkant en 4 pick-ups saam met die A.R.T. sisteem met nog meer gedetailleerde bouwerk. Die sprong in geld is groot vanaf die APX700 en jy kry definitief meer, maar of dit R2500 werd is moet elkeen self besluit. Indien jy beide gaan speel en dit vir jou die geld werd is, spandeer dit met die grootste vreugde, maar vir my persoonlik is die APX700 die beste waarde vir geld tussen die drie.

Let wel dat die pryse hierbo genoem slegs aanduidings is en kan verskil van winkel tot winkel. Die APX modelle het egter baie strawwe kompetisie in hulle onderskeie prysklasse en deur die loop van die jaar sal ek bietjie na die kompetisie kyk en dit ook review. Hopelik sal ons dan meer perspektief kry oor waar lê die APX-reeks in die breër mark. Tot dan, lekker speel op jou APX.

Die meer upmarket frett board markers van die APX900   Koop ‘n APX as jy hou van Yamaha se kenmerkende klank en in die mark is vir ‘n goeie kwaliteit electro-acoustic kitaar.  Speel die hele reeks as jy kan en koop die model wat vir jou werk.

Bly weg as jy hou van groter kitare met baie bass en warmte wat lekker dra om ‘n kampvuur.   Voordele: •        Lekker lig •        Gemaklike dimensies •        Ingeboude tuners is baie akkuraat •        A.R.T. pick-up sisteem op APX700 en APX900

Nadele: •        Nie ‘n great akoestiese klank en volume nie •        APX500 se trebles kan nogal erg wees •        As jy die tuner gebruik, mute dit nie die klank nie •        Jy sal ‘n sak of kas apart moet koop

Baie dankie aan Musiekwêreld hier in die Kaap wat die kitare aan my geleen het om die review te kon skryf. Julle kan hulle besoek by http://www.musiekwereld.co.za/ of skakel by 021-9494070.

Onthou as julle enige vrae het oor die review of in die algemeen oor kitare, effects en amplifiers laat weet my by snaar@flam.co.za.

Author: Adele Lombaard

Share This Post On