Hulp met die nuwe Flam webtuiste

Dis heerlike lente, die winter is verby en ons nuwe webtuiste is nou al meer as ’n maand lank oop vir sake!

Baie dankie vir soveel positiewe terugvoer – dit maak die afgelope twee jaar se swoeg die moeite werd.

Ons wil net ’n paar dingetjies rondom die webtuiste uitlig na aanleiding van sommige gebruikers se vrae:

#1:  Jy kan nou meer as een produk op ’n slag koop

Of jy nou by Amazon, Kalahari, Takealot of Flam koop, jy hoef nie produkte een-een te koop nie.  Sien die webtuiste as ’n supermark.  Jy gaan haal mos nie ’n blik koffie van die rak af, loop na die kasregister, betaal, gaan laai die blik koffie in die motor en loop dan terug om melk en later weer brood te gaan koop nie!  Nee, jy gooi alles wat jy wil koop in jou mandjie en betaal dan een keer vir alles – en dán gaan laai jy alles in jou motor!

Ons webtuiste werk met dieselfde beginsel:  Op die ou Flam website, moes jy vir elke produk ’n nuwe transaksie begin.  Nou nie meer nie!  As jy op die nuwe webtuiste die leadsheet, chordsheet én die Powerpoint van ’n lied wil aflaai, gooi jy alles saam in jou mandjie  (Add to cart).

As jy wil kyk wat alles in jou mandjie is, klik jy op ‘View Cart’ aan die regterkant en wanneer jy klaar is, ‘Checkout’ jy eenvoudig!

#2:  Jy hoef nie in te log nie

Jy kan jou ‘Username’ en ‘Password’ van die vorige webtuiste, maar vergeet.  Ons het ’n heeltemal nuwe webtuiste gebou!    Het ek dit genoem dat jy nie hoef in te log nie?  Dalk moet ek ook net in hierdie stadium noem dat jy glad nie ’n username en password vir die nuwe webtuiste nodig het nie.

Slegs met die heel eerste transaksie moet jy jou ‘billing informasie’ gee.  Dis slegs met die heel eerste transaksie.  Indien jy van rekenaar verwissel, sal jy dit natuurlik ongelukkig weer moet doen, maar dus slegs een keer op elke device.

Sommige gebruikers het hulle Windows so gestel dat dit nie vorms wat jy online invul, onthou nie.  Indien jy so ’n setting het, sal jy ongelukkig elke keer die info moet intik.  Dis egter ’n setting op jóú rekenaar, nie op ons webtuiste nie.

#3: Gemeentes met ’n CCLI-lisensie hoef steeds nie vir die bladmusiek te betaal nie

Gemeentes met ’n MRL-nommer hoef steeds nie vir die bladmusiek te betaal nie!  Jy gebruik jou MRL-nommer as ’n koepon-kode – die oomblik wanneer jy die koepon-kode intik, sal die R10/bladmusiek afgetrek word.

Weereens,  tensy jy jou rekenaar so gestel het, behoort hy die MRL-nommer na die eerste transaksie te onthou.  Het ek dit al genoem dat jy NIE hoef in te log om musiek gratis af te laai nie!  Jy gebruik bloot jou MRL-nommer as ’n koepon-kode! So maklik soos dit!

Jy mag jou gemeente MRL-nommer gee vir almal wat in jou gemeente se musiekbediening betrokke is!  Elkeen sal sy eie ‘billing info’ moet gee, maar kan dieselfde MRL-nommer as koepon-kode gebruik.   Die lisensie word deur die gemeente vir sy musiekbediening betaal – dit is wettig!

Maar:  as jy ’n orrelis op ’n Sondag en ’n musiekonderwyser op ’n Maandag is, let asb. daarop dat die kerk en die skool elkeen hul eie MRL moet hê. (Hey, Flam het nie die reëls gemaak nie, ons probeer julle net help om wettig musiek te kan kopieer).

Indien jy nie ’n MRL-nommer het nie, kan jy die R10/bladmusiek met ’n kaart betaal of op jou gemeenterekening sit.

#4: Page Time Out

Soms kry jy – nadat jy alles reg gedoen het – steeds ’n Page Time Out Error.  Daardie fout is die webblad s’n – nie joune nie.  Die Flam-webtuiste bestaan uit meer as 500 liedere – en elke lied het 4 of 5 verskillende weergawes – en elke weergawe van elke lied is ’n aparte produk en moes apart opgelaai word!   Dalk kan jy nou verstaan dat dit soms gebeur dat daar iewers in die oplaai-proses iets fout kon gaan.

Laat weet ons asb. by [email protected] as daar ’n fout is – ons sal nie vir jou kwaad wees nie!  Inteendeel, ons sal die betrokke produk so vinnig as moontlik by jou kry ÉN ons sal die fout probeer regstel!  Jy help ons dus baie!

Wees asb. net geduldig met ons, ons het nog nooit aanspraak gemaak op volmaaktheid of zero defek nie – moet dit asb. ook nie van ons verwag nie.  Ons sal altyd ons bes probeer om die mees professionele en gehaltediens te lewer – ons streef volmaaktheid na, maar ons het waarskynlik nog ’n endjie om te gaan.

#5: Gidssnit

As jou bladlees so sleg is soos myne, hoe moet jy dan weet hoe ’n lied klink – veral as daar nog nie ’n MP3-opname beskikbaar is nie?  Wel, nou is daar by elke lied ’n gidssnit beskikbaar.  Klik net die Play-knoppie op die spelertjie bo-aan elke Flam-song.  Die gidssnit is slegs die melodielyn van elke lied en kan nie afgelaai word nie.

Author: Faani Engelbrecht

Share This Post On