Info

Wat ons doen

FLAM bevorder lof en aanbidding in kerke deur die bladmusiek van goeie geestelike musiek aan gemeentes beskikbaar te stel. Ons stel veral die werk van opkomende liedjieskrywers aan gemeentes bekend. Verder luister ons na byna alle nuwe Afrikaanse geestelike musiek wat vrygestel word. Dit help ons om die beste kontemporêre Afrikaanse geestelike musiek vir gemeentes aan te bied. Die taakspan bestaan uit ’n groep aanbiddingsleiers wat gereeld nuwe musiek aan bepaalde kriteria meet. Wanneer dit goedgekeur word, neem ons dit op in die versameling FLAM-liedere. Gemeentes kan hierdie liedere elektronies by flam.co.za aflaai.

FLAM is egter veel meer as ’n uitgewer, keurder en verspreider van kontemporêre Afrikaanse geestelike musiek. Ons is ’n gemeenskap van liedjieskrywers, aanbiddingsleiers en begeleidingsgroepe – ’n ware “Flammunity”.

Waar ons vandaan kom

In 2002 het die Algemene Sinode van die NG Kerk ’n taakspan aangestel wat ’n manier moes vind om voortdurend nuwe kontemporêre Afrikaanse geestelike musiek te skep en te bevorder.

Die “Projekspan vir nuwe musiek” het later Flam geword na aanleiding van Jeremia se woorde in Jeremia 20:9: “En wanneer ek dink ek sal my aan Hom nie steur nie en nie meer in sy Naam praat nie, dan word dit in my soos ’n vuur wat brand en waarvan ek nie kan loskom nie.” Om nuwe musiek te ontwikkel, te versamel, te keur, op te skryf en te set is egter nie goedkoop nie. Die droom was van die begin af om bladmusiek en CD’s aan gemeentes beskikbaar te stel, maar die nodige fondse kon nie dadelik gevind word nie. Daarom het Flam mettertyd met verskillende vennote begin saamwerk. Saam met Maranatha het ons tussen 2004 en 2008 twee FLAM CD’s, Flam Volume 01 en Roeping: Lof, uitgebring. Vanaf 2010 werk ons baie nouer met Bybel-Media saam.