Wie is ons

Onthou jy dae toe jy na ’n Afrikaanse CD geluister het en gewonder het:  ‘Ai, waar kan ek daardie lied se bladmusiek in die hande kry?’ óf ‘Ons wil graag met kontemporêre eredienste in ons gemeente begin, maar waar kan ek goeie Afrikaanse kontemporêre kerkmusiek kry?’.  Nee, waarskynlik onthou jy dit nie, want daardie dae is lankal verby!

Flam is veel meer as net ’n uitgewer en verspreider van Afrikaanse kontemporêre kerkmusiek.  FLAM wil die lof en aanbidding in kerke bevorder deur die bladmusiek van goeie kerkmusiek aan gemeentes beskikbaar te stel, wil veral die werk van opkomende liedjieskrywers aan die kerk bekendstel en aan hierdie liedere en skrywers blootstelling gee.  FLAM luister na alle nuwe Afrikaanse aanbiddingsmusiek wat op die mark verskyn om sodoende die beste wat daar is, aan gemeentes beskikbaar te stel.

Maar FLAM is ook ’n gemeenskap van geestelike liedjieskrywers, uitgewers, aanbiddingsleiers en begeleidingsgroepe – ons noem dit die ‘Flameenskap’ of ‘Flammunity’.   Die taakspan FLAM bestaan uit ’n groep aanbiddingsleiers wat op ’n gereelde basis al hierdie nuwe musiek aan bepaalde kriteria meet en indien daar aan hierdie kriteria voldoen word, word die musiek opgeneem in die korpus van FLAM-liedere wat via die internet deur gemeentes afgelaai kan word.

Al die groot verspreiders van geestelike musiek, soos Merchant/Urial en Sheer Music Publishers is vennote van FLAM en ook hierdie liedere word as FLAM-liedere versprei indien dit aan die kriteria voldoen.

’N KORT GESKIEDENIS

Die opdrag van die Algemene Sinode

In 2002, nadat die Liedboek in die kerk vrygestel is, was daar ’n groep lidmate wat aangetoon het dat die Liedboek té min, té laat was.  Die grootste klagte was dat daar nie genoeg kontemporêre (‘band’) musiek was nie en dat die jeug (wat die kinders en veral die hoërskool- en naskoolse jongmense insluit) aan die kortste end getrek het.

By die daaropvolgende Algemene Sinode van die NG Kerk het die sinode ’n taakspan in die lewe geroep wat ’n  meganisme moes skep waardeur die kerk nuwe, Afrikaanse kontemporêre kerkmusiek op ’n voortdurende basis kon invoer.

Die “Projekspan vir nuwe musiek” het Flam geword na aanleiding van Jer. 20:9 waar Jeremia sê “En wanneer ek dink ek sal my aan Hom nie steur nie en nie meer in sy Naam praat nie, dan word dit in my soos ’n vuur wat brand en waarvan ek nie kan loskom nie.”  FLAM wil daardie vuur aansteek, sodat ons nooit oor die Here sal kan stilbly nie!

Die grootste struikelblokke waarteen FLAM deur al die jare heen te staan gekom het, was maar altyd finansieel.  Die droom was van die begin af om bladmusiek, sowel as CD’s aan gemeentes beskikbaar te stel, maar die nodige fondse kon nie dadelik gevind word nie.  Die droom van Flam het geblyk ’n lugkasteel te wees.

Maranatha het as vennoot aan boord gekom en het tussen 2004 tot 2008 twee FLAM CD’s uitgebring, Flam Volume 01 en Roeping: Lof.  Alhoewel FLAM en MAR Gospel Music Publishers nog steeds saamwerk, is die amptelike vennootskap aan die einde van 2008 om bepaalde redes verbreek.

Bybel-Media het in 2010 aan boord gekom en FLAM se beskeie drome het skielik vlerke begin kry!  Vandag maak Flam deel uit van Bybel-Media se Kerkmusiek afdeling.

Webtuiste

Dit was van die begin af duidelik dat ’n harde kopie bundel met bladmusiek onbetaalbaar duur sou wees.  Daarom was die besluit geneem om die musiek via die internet te publiseer.  Met die hulp en samewerking van CCLI  (Christian Copyright Licensing International) kon Flam die bladmusiek gratis aan gemeentes beskikbaar stel.  Gemeentes moet slegs oor die nodige lisensie beskik om die musiek af te laai.  Skrywers word dus nog steeds betaal, want die arbeider is immers sy loon werd!

Tot in Junie 2007 is Flam se bladmusiek op die webtuiste van die AJK gehuisves. Vanaf Junie 2007 het Flam ’n eie webblad (www.flam.co.za).

In 2009 en 2016 is die hele webblad – in samewerking met Bybel-Media se IT-afdeling – sorgvuldig oorgedoen en bygewerk.  Individue het ook nou toegang tot die webtuiste gekry en 30 sekonde klankgrepe is bygevoeg sodat jy eers na die lied kon luister voordat jy die bladmusiek aflaai.  Die gebruiker kan ook nou gidssnitte luister en selfs Powerpoints aflaai!  Die leadsheets is uitgebrei om chordsheets en hymnsheets in te sluit.  Individue kan steeds deur middel van Bybel-Media se e-winkel die bladmusiek en mp3’s aankoop.

In Julie 2016 was daar reeds meer as 550 liedere op www.flam.co.za beskikbaar en baie van hierdie liedere het óf volledige mp3-snitte óf guidetracks, backtracks en volledige klavierbegeleiding.

Flam Musiek-Uitgewers

In 2010 het die taakspan Flam besluit om ’n eie uitgewer te begin.  Flam Musiek-Uitgewers se kantoor is in Wellington, aangesien dit ’n deel uitmaak van die Bybel-Media groep.

Behalwe die bestuur van die kopiereg van liedere, is Flam Musiek-Uitgewers ook verantwoordelik vir die maak van CD’s en DVD’s. In Mei 2011 het die CD F-luister verskyn, saam met ’n hardekopie bundel “Volume 03”.  Die CD ‘Fluistering’ het ook kort daarna verskyn.  In Maart 2013 het die Folgende CD verskyn en in 2015 is ‘n CD saam met die #imagine span lewendig opgeneem.  Al hierdie CD’s is te koop of direk as mp3’s aflaaibaar.

Behalwe die F-luister-reeks CD’s gee Flam Musiek-Uitgewers ook ’n DVD-reeks ‘Brandstof’ uit.  Hierdie DVD-reeks bevat twee 10 minute praise en worship sessies – met ’n meegaande Powerpoint-aanbieding wat outomaties loop.  Die doel van die reeks is om kleingroepe en gemeentes te help met hul musiekbediening.  En sedert 2015 maak multitracks (backtracks op steroids) deel uit van die reeks produkte wat gemeentes wil help om ‘n sinvolle musiekbediening te bedryf – dit word die ‘Brandhout-reeks’ genoem.

Flam Live

Flam het sedert 2009 ’n band wat by geleentheid optree by gemeentes en ander geleenthede.  Die groep bestaan hoofsaaklik uit die lede van die Flam taakspan.  Die hoofdoel van die groep is om die musiek van Flam bekend te stel by gemeentes.

Die Projekspan FLAM
Die projekspan Flam is die hart van die Flam-gemeenskap.  Hierdie musiekleiers het ’n brandende passie vir dit wat hulle doen. Klik hier om die Flam span te ontmoet.